Ramfest ‘08 DVD launch ‘n sukses
Monday, 27 October 2008
Source: Johan Swarts (Johan Swarts se bl0g, 2008.10.27)
Ramfest 2008 se DVD launch by die Klein Libertas-teater [op Vrydag 24 Oktober - red.] was ‘n rasende sukses (met die klem op raas). Battery 9 het op dieselfde aand hul nuutste album, Galbraak, bekendgestel met ‘n goeie dosis industriële rock en aKing het die gehoor betower met nommers van hul eerste album, Dutch Courage. Beide groepe is op die DVD te siene. ‘n Sterk wind het nie gekeer dat talle aanhangers vir die geleentheid opdaag nie - en raas is daar geraas.
Wat Battery 9 aanbetref - ‘n vertoning met fut. Te min Suid-Afrikaners ken Paul Riekert se industriële spitsvondighede. Hulle behoort myns insiens tot dieselfde klas as Kobus!: al hoor ‘n mens dit nie altyd nie, is hul lirieke van die skerpstes op die Afrikaanse musiektoneel. Riekert is nie bang om ‘n ding op die naam te noem nie, maar hy het terselftertyd genoeg liriese vernuf om op alles behalwe ‘n hoop vloekwoorde staat te maak vir trefkrag. Luister gerus na "Die vraglied" (’n parodie van "Die vlaglied van Suid-Afrika") op die nuwe album.
aKing was self nie sleg nie. Laudo Liebenberg (voorman en kitaarspeler) en kie het liedjies van hul eerste album, Dutch Courage, gespeel. Liebenberg en Hunter Kennedy is ‘n gedugte skrywerspaar en Liebenberg weet hoe om ‘n solo uit te karring. Aanhangers was in hul noppies toe aKing hul tweede musiekvideo aangekondig het.
aKing op ‘n afstand
Voor die geraas is ‘n voorskou van die DVD vertoon. Boernoir produksies het hulself oortref met ‘n professionele produk. Die produksiewaarde van die twee DVD’s, wat onder andere walkaround footage (kan jy "fpersing" sê?) en die gekose liedjies van elke groep bevat, spreek van bevoegde filmvervaardigers wat weet hoe om te selekteer en te kombineer. ‘n Mens besef die omvang van wat hulle gedoen het eers wanneer jy ontdek dat deur hulle rofweg 15 960 minute se beeldmateriaal moes sif (dis omtrent 725 episodes van jou gunsteling televisiereeks) en die oorblywendes tot ‘n koherente produk van 4 uur moes smee.
Veral heuglik is Lark se heel laaste vertoning ooit, die Suid-Afrikaanse Air Guitar kampioenskappe (wat gewen is deur Heine "Lord Volmer" van der Walt) en Kobus! se opvoering van "Hoenderman". Elke band se instrumente is apart opgeneem via ‘n multitrack recorder en na die tyd gemaster om so goed as moontlik te klink saam met vyftien kameras se beeldmateriaal. Die resultaat is iets waarmee weinig ander plaaslike musiekfeeste kan spog.
Die uwe was bevoorreg genoeg om self agter die kamera in te klim:
Raai wie byt sy onderlip wanneer hy konsentreer?
As vanjaar se fees enigsins ‘n aanduiding is van Ramfest 2009, behoort daar volgende jaar dalk selfs ‘n beter produk te verskyn. Indien Boernoir weer gekontrakteer word om dit te verflim (ek sou hulle huur) kry hulle hopelik ‘n paar dollies en cranes vir Ramfest ‘09. Dan gaan die pixels eers spat.
Koop die DVD. Jy gaan enersyds ‘n opkomende, talentvolle produksiehuis ondersteun en andersyds ‘n bydrae maak tot iets moois wat besig is om te groei in die Suid-Afrikaanse musiektoneel. Blameer dit op die hoenderman.
Lees gerus Danie Marais se resensie oor Galbraak.